Die toekoms van produksie en verbruik? Reply

Verlede en die toekoms?
Bron: The Economist

Ons leer aspirant ekonome dat produksie van goedere en dienste gaan oor spesialisasie, arbeidsverdeling en skaalvoordele. Verbruik word tipies beskryf in terme van nutsmaksimering en mense se voorliefde vir verskeidenheid. Ek het onlangs twee interessante stukke gelees wat mens nuut laat dink oor die toekoms van produksie en verbruik.

Produksie gaan beïnvloed word deur nuwe toerusting, prosesse en materiale – ‘n onlangse spesiale verslag in The Economist beskryf dit as ‘n Derde Nywerheidsomwenteling:

  • Vervaardiging is toenemend digitaal en 3D-drukkers en robotte word oral gebruik.
  • Prosesse en komponente word so gestandaardiseer dat meer modelle in dieselfde produksielyn vervaardig kan word.
  • Materiale soos koolstofvesels vervang staal en aluminium in produkte.

Dit alles help om vervaardiging meer buigsaam te maak. Vervaardigers kan nuwe produkte vinniger op die mark kry en winsgewend pasmaak vir individue. Die verslag voorsien dat dit alles belangrike gevolge gaan hê:

  • ‘n Kleiner hoeveelheid arbeid gaan nodig wees en die arbeiders sal hoogsgeskoold moet wees.
  • Die koste van arbeid gaan minder belangrik wees en eerder as om produksie uit te kontrakteer na Sjina, gaan ondernemings nader aan hul verbruikersmarkte wil wees om vervoerkoste te spaar en produkte aan te pas vir plaaslike smaak en voorkeure.
  • Klein- en medium-grootte ondernemings sal kan deelneem en meeding in vervaardiging.
  • Daar gaan geleenthede wees in die “groen”-ekonomie.

Johan Fourie skryf op sy blog meer oor die gevolge vir werkers.

Aan die verbruikskant was daar weer ‘n interessante Wêreldbank blog oor sogenaamde “collaborative consumption”. Volgs die artikel is die nuuste neiging onder jong stedelinge om geld, hulpbronne en tyd te spaar. Eerder as om self ‘n kar te koop, teken mense in die VSA in op die Zipcar diens waardeur jy ‘n kar kan huur per uur, soos wat jy dit nodig het. Ander gebruik die internet om saamrygeleenthede te bied en te benut: in sommige stede moet bestuurders sonder enige passasiers meer tolgelde betaal en dit spaar letterlik geld om te deel. Daar is ook dienste waardeur jy vinnig ‘n das kan huur vir ‘n vergadering met die baas (sien Tie Society), ‘n hammer, boor of saag vir die werk by die huis, of  in New York, ‘n skaap om jou gras kort te hou! Regoor die wêrld is daar skemas om fietse te deel en te huur.

So as jy ‘n Econ-1 student is en leer van produksiemoontlikheidskrommes, of vraag en aanbod, hou gerus die nuwe eras van produksie en verbruik ingedagte.